08 Januarie 2018

Wanneer dit Hom behaag

Wow! Kyk hoe praat God in antwoord op gebed.
Ek het vandag gebid oor verskeie dinge en ook gelei gevoel om te bid vir ons regeringsleiers, dat God hulle harte sal verander en hulle tot bekering sal lei, hulle sal red. Dat hulle ons land sal regeer volgens Sy Woord, Sy wil en dat baie in hierdie land na Christus sal draai.
(Baie in ons regering is korrup, in rebellie teenoor God, ons heersers hou van oneerlikheid.)
Die volgende is wat God vir my sê deur Sy woord (Psalm 47:10) en deur 'n kommentaar van John Gill (ek hou baie van sy kommentare op Skrifverse):

Die edeles van die volke het vergader — ’n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!
~Psalm 47:10


Die skilde van die aarde is die heersers van die aarde, en hulle is veronderstel om 'n skild, 'n beskerming vir ons te wees. Die Here stel hulle aan en sit hulle af soos Hy wil, en hulle harte is in Sy hande en Hy kan hulle bekeer wanneer dit Hom behaag en hulle bymekaarmaak in Sy Seun en Sy kerk.
Ons veiligheid en beskerming is van die Here wat Koning is oor die hele aarde.
Christus het alle mag in die hemel en op aarde en word hoog verhef aan die regterhand van God, en engele, owerhede en magte is onderhewig aan Hom.
Ek sal aanhou bid vir ons regeringsleiers, want hulle is in God se hande en Hy is die Pottebakker wat uit dieselfde klomp klei die een 'n voorwerp tot eer en die ander tot oneer maak.
Dankie Here dat U in beheer is en dat U wil op aarde gedoen word net soos in die hemel. Amen.

Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
~Romeine 9:21


Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.
~2 Timotheus 2:20


Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.
~2 Korinthiërs 4:7


sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
~1 Korinthiërs 2:5


in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand;
~2 Korinthiërs 6:7


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking