20 Maart 2016

Lofprysing en aanbidding bring oorwinning

2 Kronieke 20

Ek groet julle in die wonderlike Naam van Jesus.  Mag God ons Vader en Jesus Christus ons Here julle genade en vrede gee.
 
Wat 'n bemoediging het ek gekry toe ek 2 Kronieke 20 lees.  Die volgende is wat ek gekry het uit hierdie hoofstuk.  Ek maak dit myne!  Doen jy ook so, want God se liefde, seëning en oorwinning is vir ons almal.  Mag God jou seën soos jy hier lees.

God is die God wat in die hemel is.  God is die Heerser oor al die koninkryke  op die aarde.  God is kragtig en magtig.  Niemand kan teen God staande bly nie.

As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons tot God roep uit ons ellende en God sal ons hoor en ons verlos.
(Kyk nou net daar!  Ons gaan tans deur 'n droogte in ons pragtige land Suid-Afrika en in ons ellende roep ons uit na God in gebed en Hy stuur die reën!  Halleluja!)
Daar staan ook geskrywe in 2 Kronieke 7:14 
Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak.
Wie is die mense wat God se Naam dra?  Ons!  Christene!  Ek weet die woord verwys daar na die Israeliete, maar dieselfde geld ook vir ons!  Want ja, baie Christene volhard en leef in sonde en God wil hê ons moet ons rug draai op die sondeEk glo met my hele hart die droogte is straf van God op hierdie goddelose nasie wat hulle rug op Hom keer.  Jesus roep mense tot bekering.  Op ons knieë is waar ons moet wees en ons moet bekeer van ons slegte weë en God sal ons land genees.

Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.

Dit is wat die Here vir julle sê:  Moenie bang wees nie!  Moenie moedeloos wees nie, want die geveg is nie julle s'n nie, maar God s'n.

Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie.  Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here.  Hy is met julle.  Moenie bang of moedeloos wees nie.  Die Here is met julle!
(Die Here bring na my herinnering ons posisie in Christus) :
Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.
So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.
Efesiërs 2:6-7 
Ook herinner dit my aan die wapentoerusting van God wat ons aantrek in Efesiërs 6:13-18. 
Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.
Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.
Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.
Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.
Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Glo in die Here julle God en julle sal vasstaan.  Sing tot eer van die Here.  
Prys Hom vir sy heerlike heiligheid:
Loof die Here want sy troue liefde duur vir altyd.

Wanneer ons sing en prys wanneer ons in die geveg is, is die vyand verslaan.
Ons word geseën met die vyand se rykdom.  Ons vat wat syne is!  Ek neem dit geestelik op, maar soos hier in dié hoofstuk is dit letterlik, so vir ons kan dit oorspoel na die natuurlike!
Spreuke 6:31 sê vir ons die dief moet sewe maal meer teruggee wat hy gesteel het.  Satan is 'n dief!  Lukas 10:10 staan geskrywe dat die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.  Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê, ja sodat ons dit oorvloedig kan hê!  En dit is die ewige lewe waarvan daar gepraat word.  Hoeveel het Satan nie al van ons gesteel nie en ek praat nie nou oor materiële dinge nie, maar dink aan gebroke huwelike, onmin in families, haat in ons harte, onvergewensgesindheid, siekte.  Hy moet sewevoudig vir ons teruggee wat hy van ons gesteel het! 
Ons seëning kan ook wees in die materiële.  Nie dat ons almal soos die "voorspoedspredikers" in weelde sal leef nie, nee, maar dat ons genoeg sal hê om van te leef.

Die volgende skryf ek ook uit 'n geestelike oogpunt.  Ons sal in die Vallei van Seëninge staan en die Here seën en prys.

Ons sal vrede hê omdat God vir ons rus aan alle kante sal gee.

Dan is daar aan die einde vir ons 'n waarskuwing, 'n les om te leer.  Moenie 'n verdrag met 'n goddelose man sluit nie.  Die Here sal jou werk vernietig!

Kom ons bid:

God ons Hemelse Vader, ons dank U vir U woord wat ons so baie bemoedig en ook leer om waaksaam te wees.  Dankie vir U liefde vir ons Abba, dat U deur Jesus Christus vir ons die lewe in oorvloed gee.  Dankie vir die outoriteit wat ons het in Jesus Christus.  U het die vyand oorwin en ons 'n sitplek in die Hemel gegee saam met Jesus Christus.  Dankie my God vir U ontsettende groot genade en liefde wat U aan ons bewys deur Jesus.  Geloofd is U Heilige Naam God.
In Jesus se Heilige Naam bid ons.
Amen.
 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking