18 Oktober 2014

Vertrou op Jesus

Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,  
2 sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 
 3 Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. 
4 Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” 
5 “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”
6 En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.  7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.
8 Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.”
9 Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het.  
10 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” 
11 En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.
•~Lukas 5:1-11
Is Jesus nie wonderlik nie?  Jesus het gepreek vir die mense en Simon het geluister wat Hy sê en Jesus moes 'n groot indruk op Simon gemaak het, want toe Jesus vir hom sê om by die diep waters die nette te gaan uitgooi, toe doen hy dit.  Hy kon dit gelos het, want hulle het mos alreeds probeer, maar het niks gevang nie.

Omdat hy gehoorsaam was, toe vang hulle soveel dat hulle nette wou skeur en hulle bote amper gesink het!  Kyk net hoe seën ons Here ons wanneer ons vir Hom luister en op Sy woord vertrou!

Simon was so oorweldig deur Jesus se heiligheid, hy was onmiddelik bewus van sy sondige toestand.  Om in Jesus se teenwoordigheid te wees, maak ons intens bewus van ons sondige natuur.  Wanneer Hy in ons harte kom woon, dan begin Hy ons skoonmaak.  Die Heilige Gees maak ons bewus van enige sonde wat ons moet laat staan, enigiets wat Hom bedroef maak.

Luister na die stil, innerlike stem van God en doen wat Hy sê.  Hy sal ons seën, so oorvloediglik dat ons nie genoeg plek sal hê om dit te stoor nie!  Die beste van als, as ons gehoorsaam is aan Hom het ons die ewige lewe.

Laat ons vir mense vertel van hierdie wonderlike God van ons, wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo, nie sal vergaan nie, maar die ewige lewe sal hê.  God wil nie dat enigiemand verlore moet gaan nie.  Hy wil hê dat die slegte mense van hulle sondes sal bekeer en in Hom moet glo en vertrou.
Laat ons mense vertel van hierdie Jesus.  Wanneer ons gehoorsaam is in dit, sal Hy ons seën om baie siele na Hom te bring en Hy sal hulle skoonmaak, ons moet hulle net vertel!

Artwork:

1 opmerking: