11 Desember 2014

Hofsake tussen Christene

Daar lees ek toe nou in 1 Korinthiërs 6 van Christene wat mekaar hof toe vat.

Apostel Paulus het dit teen die gelowiges dat hulle mekaar hof toe sleep voor heidense regters.  Hy sê dat ons as gelowiges eendag die engele en die wêreld sal oordeel, maar ons kan nie eens geskille onder mekaar oplos nie.

Dan kom nog iets na my wat in die Bybel geskrywe is, van die ander wang draai en as een jou bokleed wil vat, gee hom sommer jou onderkleed ook!  As iemand jou goed vat moet jy dit nie terugeis nie.

Mense, ek wonder hoeveel van ons sal dit doen!  Ek kyk hier op die internet hoe die mense reageer en kommentaar lewer op nuusgebeure.  Die haat, die bitterheid, die vloeke, stroom uit hulle harte uit.  Nou wonder ek hoe hulle in hulle daaglikse wandel teenoor hulle naaste optree?  En sommiges van hulle is Christene, as jy na hulle Facebook profiele kyk.
Hulle bely God met die tong, maar hulle harte is ver van Hom af.

Nee mense, ons moet waarlik soos Jesus Christus optree.  Hy het soos 'n Lam ter slagting na die kruis gegaan.  Hy was stil, nederig, vol vrede, nie histeries geskree, gevloek en baklei nie.  Hy het Hom nie teëgesit nie.

Nou wonder ek wat as ek as Christen deur 'n ongelowige hof toe gevat word?  Ek reken ons moet dieselfde optree as teenoor 'n Christen broeder, ons moet vergewe en probeer vrede maak en skik, sodat daar nie haat en bitterheid ontwikkel wat soos 'n kanker aan mens vreet en versprei en baie mense affekteer nie.

Mag ons Here Jesus ons help en lei in elke situasie, sodat ons wyse besluite kan maak wat God tevrede sal stel.  Ons kan God net tevrede stel deur soos Jesus te wees, gewillig om alles op te offer.
Jesus sê, tel elke dag jou kruis op en volg Hom.

~•~Gaan lees in 1 Korinthiërs 6 meer oor dit~•~

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking