27 Oktober 2014

God se beskerming

Ek wil graag met julle deel hoe God in my lewe werk.

Die duiwel se gunsteling taktiek met my is, om my aan te val met vrees, want hy weet baie goed as ons vrees, dan bekommer ons en ons twyfel of God ons regtig sal help, sal beskerm en dit liewe mense is ongeloof en ons weet dat sonder geloof kan ons God nie tevrede stel nie.
Maar met die Here se hulp het ek nou al geleer om te onderskei wanneer die duiwel besig is om my aan te val.  Ek vrees nie meer nie.  God is getrou en Hy gee vir my Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, omdat ek daaroor bid.  God is so dierbaar, so liefdevol, so goed.

Waar ons bly is baie inbrake.  Twee keer is daar al by ons garage ingebreek en daar was nog 'n paar pogings, maar hulle is onderbreek.  Selfs 25 jaar terug, die aand voor ons moes intrek, toe probeer 'n ou hier inbreek!  Maar God is baie goed vir ons.

'n Paar aande terug was my man by die werk besig met nagskof en ek was by die huis alleen.  'n Skelm kom sluip toe hier rond en laat die sekuriteitslig aan die kant van ons huis aangaan.

Die rede hoekom ek dit vertel, is om vir julle te wys hoe die duiwel te werk gaan.  Ek en my man gaan binnekort vir 2 dae weg en ek was baie bekommerd om die huis so alleen te los, veral met al die inbrake.  Maar ek het besef God is nie tevrede met my nie.  Ek het al my vrese en bekommernisse vir Hom gegee in gebed!  Ek plaas al my vertroue in die Here Jesus Christus!  God is in beheer!  Ek wil nie die Heilige Gees bedroef maak deur bekommerd en bevrees te wees nie.  Bekommernis is 'n teken van ongeloof en ons weet sonder geloof kan ons nie vir God tevrede stel nie.

Die duiwel sal enigiets probeer om jou geloof te ondermyn, om jou te laat vrees, bekommer, twyfel, want hy haat vir jou en hy haat die feit dat ek en jy op God vertrou.  So ek is hier om vir jou te vertel moenie bekommer oor enigiets nie!  Vertrou op Jesus!  Is enigiets onmoontlik vir God?  Niks is onmoontlik vir ons God nie!  Hy het ons lief en Hy sorg vir die regverdiges.  Die Bybel sê die regverdiges sal deur baie rampe getref word, maar die Here red ons uit hulle almal!

Die beste van alles is hoe die Here my lei in Sy woord.  Die volgende oggend lei Hy my na Jesaja 52:12.

Julle hoef nie haastig pad te gee nie, julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:  Die Here gaan voor julle uit, die God van Israel kom agter julle aan.

Daardie aand bevestig die Here Sy woord deur 'n suster in Christus wat die profetiese gawe het, maar wat niks van my weet nie en ek sien haar FB status in Engels wat sê:  (vertaal deur my)

Ek hoor die Here sê, Ek het jou vyande onderskep, want jou vyande is ook My vyande.  Dit is alles nou verby.  Die pad is nou duidelik.  Niks meer oor jou skouers loer nie, want jou Here beskerm jou voorkant, jou agterkant en al jou kante.  Loop nou op die pad waar bandiete, diewe, rowers en moordenaars verbied is om jou, my gesalfdes, in hierdie seisoen aan te raak.  Rus My dienaars, want die Here beskerm jou, want jou vyande is ook My vyande.

Sien jy hoe God praat?  Is Hy nie kosbaar, liefdevol en beskermend teenoor die wat aan Hom behoort nie?  Hy het 'n duur prys vir ons betaal!...ons gekoop met Sy Bloed!  Ons is Syne!
Halleluja!  Prys die Here o my siel!  Ek het U so baie lief Here Jesus!  Geseënd is U Heilige Naam Here! † ♥


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking